Einde van ‘n era – Ons Kaapstad kantoor

18.02.22 07:56 PM By Bianca
Na vyftig jaar in die arbeidsmark voel dit werklik vreemd om te weet dat ek vanaf 1 Maart 2022 my eie baas gaan wees.

Ek het op ‘n jong ouderdom geweet ek wil verder gaan studeer maar daar was nie geld nie so ek sou self daarvoor moes betaal. Ek het op vyftien-jarige ouderdom elke naweek en vakansie by die belastingvrye drankwinkel by Jan Smuts Lughawe begin werk.

Ek kon sodoende 1975 by Universiteit van Pretoria inskryf. B A Politieke Wetenskap. Politiek was en is nog steeds een van my groot belangstellings. Ek het egter gou besef dat een vak nl: Ekonomie nie vir my bedoel was nie en aangesien Ekonomie 2 ‘n vereiste was vir die graadkursus het ek in 1976 oorgeskakel na BAdmin. Het darem na drie jaar Ekonomie 1 geslaag. Dink Professor Pieter Haasbroek het my jammer gekry.

6 Desember 1978 begin ek by die Suid-Afrikaanse Lugdiens werk waar ek een van my ander belangstellings nl: reis kon bewaarheid. Het ook daar die liefde van my lewe ontmoet.

Ons het 1990 vanaf Kemptonpark na Bellville verhuis – beste besluit ooit.

April 1995 het ‘n vriendin vir my vertel dat haar skoonma Retha Maartens gaan aftree by die S A Noodhulpliga en my aangemoedig om vir die pos aansoek te doen. Die kantoor was in ‘n pslaangebou by Karl Bremer Hospitaal. Ek was genooi vir ‘n onderhoud 7 April 1995. Dr Willie Conradie het heerlik gesels en skielik het hy my gevra “is jy ‘n demokraat of outokraat?” My antwoord van “demokraat maar soms moet jy outokraties optree” was blykbaar vir hom aanvaarbaar want 10 April 1995 het hy my die pos as Uitvoerende Beampte aangebied met begindatum 1 Mei 1995. Sy eerste opdrag aan my was om die stukkende kantoorstoel te vervang en om te kyk vir ‘n geskikte kantoorgebou. Albei die opdragte het ek darem uitgevoer.

My eerste dag by die Liga was nogal moeilik. Die Streekbestuur het al die jare die kitaar geslaan en van hulle het hul oog gehad om in die pos aangestel te word. Hier kom ‘n wildvreemde persoon wat nie ‘n lid is of enige noodhulpopleiding het nie. Vroeg die oggend stap die Voorsitter van Streek WP die kantoor binne. Ek het gedink hy kom my welkom heet maar sy eerste woorde is “ek bedank as Voorsitter.” Ek het toe besef hoekom Dr Conradie wou weet demokraat of outokraat en het besef ek sal my stempel hier moet afdruk. My antwoord “baie dankie Mnr Smit ons aanvaar jou bedanking.”

Met verloop van tyd het ek en die lede ‘n goeie verhouding opgebou en het hulle uit hul pad gegaan om my te help. Ek kan aan so baie dink.

Marie Roux wat vir baie jare die voorsitter, ’n ma en vriendin was en nog steeds is. Dankie Marie. Sy en haar oorlede man, David Roux ,het baie jare vir ons kwaliteit opleiding gedoen.

Hansie McDonald was die eerste instrukteur wat ek gebruik het vir veral opleiding by die kantoor. Eksentrieke persoon. Toe ons die gebou in 1999 koop was haar eerste woorde “dit spook hier.” Gelukkig het ek hom nooit raakgeloop nie.

Na Hansie het Dalene Martins my pad gekruis. Iemand op wie ek altyd kon staatmaak. Ek kon haar laataand skakel indien iemand dringend dienste by sport of opleiding nodig gehad het. Sy het altyd ja gese. Ek dink die hoogtepunt vir ons twee was die 2010 Sokker Wêreldbeker. Dalene sonder jou sou ek dit nie kon doen nie. Baie, baie dankie.

Adel du Toit was vir ‘n jaar of wat my administratiewe assistent en het op my aanbeveling na Brittanje ge-emmigreer waar sy baie goed presteer het.

Oppel Greeff, baie dankie vir jou omgee en harde werk om die Liga te hernu en herleef. Ander sou al lankal moed op gegee het. Jy is ‘n inspirasie vir baie.

Daan Erasmus, jy moes hare op jou tande hê gedurende jou termyn as uitvoerende direkteur. Soos wat ek met jou aftrede genoem het bewonder ek jou as “Mensch.” Baie dankie vir mooi herinneringe en lekker gesels.

Joke Wandrag, jy was en is ‘n voorbeeld vir ander met jou uitsonderlike georganiseerdheid en administratiewe vaardighede. Dink baie terug aan hoe ek en jy saam met Johan Brits geworstel het met die pensioenfonds. Baie dankie vir jou omgee en liefde vir die Liga.

Elizabeth Tlaletse, I will always remember your kind and shy smile (and your high heels! ) Thank you is not enough. Please send my regards to Selina.

Hélène van Wyk, dankie dat jy gereël het dat my aftrede vlot verloop. Ek hoop die Wes-Kaap hou jou goed besig en dat julle goeie inkomste uit die provinsie sal verdien.

Norman, Bettie en al die lede wat my pad gekruis het – die wat nog lewe en die wat ons reeds vooruit gegaan het. Baie dankie vir jul vriendskap en omgee.
Die beginjare se herinneringe sluit in Hoofrade, Hoofbestuursvergaderings, besoeke aan Takke regoor die Streek.

Ek kan baie ander name noem sommiges nog met ons en ander het ongelukkig die tydelike met die ewige verwissel. Mag hul siele in vrede rus.

Terwyl ek die kantoor oppak het baie trane gevloei. Hartseer oor waar ons was en waar ons nou is maar ons lewe in ‘n veranderende wêreld en ons moet aanpas. Covid 19 het dit net weer beklemtoon.

My wens vir die Liga is om weer die grootste en beste organisasie te word sodat soveel mense moontlik die beste basiese vaardighede kan ontwikkel om hulself en hul medemense te kan help in ‘n omgewing waar ons Regering ons faal ten opsigte van gesondheidsdienste.

“May the road rise up to meet you. May the wind be always at your back. May the sun shine warm upon your face, the rains fall soft upon your fields and until we meet again, may God hold you in the palm of His hand”
Ancient Celtic prayer
Gaan terug
Old leaves

Bianca

- Added to cart
- Can't add this product to the cart now. Please try again later.
- Quantity updated
- An error occurred. Please try again later.
Deleted from cart
- Can't delete this product from the cart at the moment. Please try again later.