• Geskiedenis

    Die Suid-Afrikaanse Eerstehulpliga was die geesteskind van Mnr. George Annandale Nezar, wat in 1934 besef het dat sy moedertaal, Afrikaans, erkenning behoort te kry as 'n taalmedium waarin basiese eerste hulpvaardighede aan Suid-Afrikaners geleer kon word.

Geskiedenis

1930

Die totstandkoming van die ATKV. Die Afrikaanse spoorwegamptenaar het ’n drang gehad na eie goedere op die kulturele en ander lewensterreine. Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging word gestig. Die organisasie het homself beywer vir die intellektuele en geestelike groei van die Afrikaner.

1932

Uit verskeie oorde het die behoefte by Afrikaanssprekendes ontstaan om opleiding in noodhulp in hulle eie taal te ontvang. In 1932 ontstaan die idee dan van ’n Suid-Afrikaanse Noodhulpliga by mnr. George A Nezar, die vader van die SANL. Hy verkry die ondersteunende hulp van mnr. HJ Klopper, in hierdie stadium die voorsitter van die ATKV.

1933

Teen 1933 het die Afrikaner se taalstryd ook in die Engels georiënteerde noodhulpbewegings veld gewen. In Februarie 1933 maak die eerste Afrikaanse afdeling van die St. John, wat reeds vanaf 1919 opleiding in die Spoorweë behartig, in Johannesburg sy verskyning.

1935

Die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga word gestig. By die sesde jaarlikse kongres van die ATKV in Pretoria word die finale besluit geneem om die SANL te stig. Op 17 April 1935 word die SA Noodhulpliga dan ook in die lewe geroep. Noodhulpliga Bloemfontein – Op 9 Augustus 1935 word die eerste tak in Bloemfontein in die Oranje-koffiehuis gestig en word die Bloemfontein-Werke Noodhulpligatak genoem. Die eerste voorsitter is mnr. LTP van der Walt met mnr. L Greyling as ondervoorsitter, mnr. P Heckroodt as sekretaris en mev. Pretorius as penningmeesteres. In Oktober 1935 word ’n onderkomitee van die Uitvoerende Raad van die SANL aangestel om sekere sake te hanteer en word ’n bedrag van 100 pond aan die komitee beskikbaar gestel vir noodhulpdoeleindes.

1936

Die statute van die SA Noodhulpliga word opgestel en die hoofkwartier verskuif vanaf Hartenbos na Bloemfontein. Tydens die sewende kongres van die ATKV in Mei 1936 te Kimberley vind die eerste wedstryde van noodhulpspanne plaas met die takke Bloemfontein, Shannon en Kroonstad as die enigste mededingers. Die St. John-toetse word gebruik. Eers in 1938 sal die SA Noodhulpliga daarin slaag om sy eie toetse saam te stel.

1938

In April 1938 word die eerste tak in die Transvaal deur mnr. JA Steenkamp gestig. In 1938 vind die simboliese ossewatrek plaas. Die SA Noodhulpliga word die geleentheid gebied om homself aan die volk bekend te stel. Gedurende die eeufeesviering tree mans en dames saam met die St. John en Rooikruis op om diens te lewer. In Junie 1938 word besluit om die SA Noodhulpliga ook buite die Spoorweg te organiseer en ontstaan die Burgerlike Kommandement. Nog ’n hoogtepunt in 1938 is die verskyning van ’n Afrikaanse handleiding. Reeds in 1936 is 200 pond deur die Uitvoerende Raad bewillig om ’n handleiding in Afrikaans uit te gee.

1939

Op 19 Augustus 1939 word die eerste Uniale Kongres van die SANL in die Oranje-koffiehuis gehou.

1941

Oom Tienie van Schoor word aangestel as hoofkommissaris van die SANL. Hy raak so intens betrokke by die SANL dat hy van die ATKV onttrek. Hierdie amp beklee hy vir 25 jaar.

1942

Ten spyte van moeilike tye tydens die oorlogsjare, was daar in 1942 reeds 340 takke met ’n ledetal van 6 600.

1943

Na vele onderhandelings is daarin geslaag om die SANL as Welsynsorganisasie te registreer en het hulle losgebreek van die ATKV, hoewel hulle nog finansiële ondersteuning van die ATKV ontvang het.

1944

In 1944 is ’n belangrike deurbraak gemaak toe die SANL daarin geslaag het om Noodhulp en Volksgesondheid as ’n verpligte vak te laat doseer aan die Normaalkollege in Bloemfontein. ’n Kinderafdeling van die SANL is in die lewe geroep, bekend as die Jeuglaer. Dit was egter nie geslaagd nie en hulle kon die ledetal nie hoër as 2 000 laat styg nie.

1945

Kongres oor Volksgesondheid. Hierdie kongres vind plaas op 7 Julie in Bloemfontein onder die beskerming van die SANL. ’n Instituut vir Volksgesondheid word gestig – ’n geskiedkundige oomblik vir die SANL, maar ook vir Suid-Afrika.
Old ambulance

1946

In Februarie 1946 verskyn Gesondheid, die kwartaalblad van die SANL. Die doel van hierdie blad was om ’n gesondheidsgids van die Afrikaner te wees, maar ook ’n amptelike mondstuk van die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga en sy vertakkings. Die tekort aan fondse het hierdie blad egter spoedig laat sneuwel, en na slegs ses uitgawes word die blad gestaak.

1950

Soos reeds genoem is die SANL in 1943 geregistreer. Dit moes egter weer in 1947 geregistreer word nadat die vorige registrasie herroep is. In 1950 word SANL vir die laaste keer herregistreer en ontvang die nommer WO 280.

1953

Die blad Gesondheid maak weer sy verskyning en verskyn nou maandeliks en nie kwartaalliks nie. Mettertyd het die SANL erkenning gekry by die staatsdepartemente. Die SANL ontvang erkenning op die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens (SAS en H) en Mynwese.

1954

Die uniform van die noodhulpwerkers is gefinaliseer en goedgekeur. Teen die einde van 1955 was die meeste mans reeds in besit van ’n nuwe uniform. Aan die begin van 1954 verskyn die junior se handleiding en het sodoende vastigheid aan die juniorafdeling gegee. Die SANL het nouer kontak met ’n Nederlandse beweging – Eerstehulp Bij Ongelukken (EHBO).

1956

Op 16 April vier die SANL sy mondigwording. In hierdie jaar word die Noodhulpliga se kleurbaadjie en eerste graadtekens bekendgestel.

1963

Burgerlike Beskerming maak sy amptelike verskyning by noodhulpbewegings.

1965

In hierdie jaar gebeur verskeie dinge: nuwe kentekens, rangtekens en knope word beskikbaar. Die kopdoek vir dames word afgeskaf. Die nuwe vlag word in gebruik geneem. Laastens word die toekenning van die Ere-fakkel ingestel.

1968

Herontwerp van ‘n damesuniform sodat dit kon tred hou met die nuutste modeneigings. Hierdie uniform word dan ook op 1 Januarie 1969 in gebruik geneem.

1970

Hersiene handleiding verskyn. Die besluit word geneem om die Junior Gesondheid ook in Engels te vertaal.

1971

Op 8 Februarie verskyn die nuwe noodhulphandleiding.

1973

Die nuwe Pet-kentekenwapen van die Burgerlike Beskerming word in gebruik geneem.

1977

In hierdie jaar word die formele aanddrag vir dames en somerdrag vir mans (blou hemp) ingestel. Die groen sweetpakke word deur blou sweetpakke vervang en die groen kleurbaadjie deur ’n swart kleurbaadjie.
Old ambulance
- Added to cart
- Can't add this product to the cart now. Please try again later.
- Quantity updated
- An error occurred. Please try again later.
Deleted from cart
- Can't delete this product from the cart at the moment. Please try again later.